Piet Botha krap verbete sy tas
deurmekaar tot hy dit kry: persverklarings oor sy jongste twee CD's, Jan
Skopgraaf en Jack Hammer - Anthology, en nog 'n hand vol ou resensies oor
sy eerste Afrikaanse solo-album, 'n Suitcase Vol Winter (1998): "Dan hoef
ek mos nie eintlik te praat nie." Dit sukkel om die man met die diep,
lui stem te oortuig dat hy nie selfingenome is as hy oor homself gesels
nie. "Ek wil nie hê jy moet dink ek is wintie nie. In elk geval, ek is
vervelig. Ek wil eintlik net musiek maak, en as mense daarvan hou, is ek
baie dankbaar." Hy is al beskryf as 'n rock-legende in die SA
musiekbedryf. Sy groep, Jack Hammer, bestaan reeds 15 jaar (in
verskillende gedaantes) en hy maak al 25 jaar lank musiek. Toe hy die
eerste keer 'n paar jaar gelede in Afrikaans begin gesing het - "ek was
eers halsstarrig, vroeër was Afrikaanse musiek altyd sulke Duitse
vertalings oor seemeeue" - het dit 'n omwenteling in sy loopbaan
beteken. Sy lewe het baie verander sedert die begindae toe hy en sy
orkes die pad sou vat en dan sommer drie maande in Durban vashaak. Deesdae
is hy 'n gesinsman met vrou en kinders (om hul privaatheid te beskerm, sê
hy nie hul name nie), 'n kleinhoewe buite Pretoria, polisse,
lewensversekering ... "Ek is deel van die sisteem," sê hy laggend. Maar
niks maak hom gelukkiger as om soggens agter die klavier in te skuif nie.
" 'n Mens se lewe is so kort. Ouens jaag voort om dié motor of daardie
eiendom te kry. Maar styg op in 'n vliegtuig, kyk uit, en daardie kasteel
is net 'n spikkeltjie ... dis wat dit is. Niks. Jy moet doen wat regtig
vir jou saak maak."
Jou lewe het allerlei
kinkels - jy het in Amerika gewerk, jy't 'n oudpolitikus-pa (Pik Botha),
jy het saam met die akteur Billy Bob Thornton gesing ... was dit so
opwindend soos dit klink?
Daar gebeur baie dinge in 25 jaar op
die pad. Party snaaks, ander tragies. Ek onthou een van ons eerste groepe
was Wildebeest. Dit was opwindend. Maar ons het seker te veel energie
gehad, ons was jonk en deurmekaar, baie meer op ons ego en drifte ingestel
- die groep het uitmekaar gebars! Net nadat ons Jack Hammer in 1984
begin het, het die Pretoriase klub waar ons sou speel, afgebrand - met al
ons toerusting. Ek besluit toe maar om Amerika toe te gaan. In Los Angeles
het ek saam met Mexikane as konstruksiewerker gewerk. Hulle vra nie vrae
as jy nie 'n werkpermit het nie. Ek en Billy Bob Thornton het in dieselfde
woonstelblok gebly. Hy het tromme gespeel en gesing ook, maar sy eintlike
plan was om akteur te word. Ons het saam begin speel. In daardie stadium
was ek en hy Jack Hammer. Op my jongste Jack Hammer-CD is een van sy
liedjies. Daar was goeie en slegte tye.
Was jy
rebels? Net omdat mense ons lewe as rebels beskou het, het dit
nie beteken ons was rebels nie. Ek wou maar net musiek maak. Van kleins
af. Elvis en Jim Reeves was my helde. Op Afrikaans Hoër Seunskool in
Pretoria het ons musiek begin maak. Dis moeilik as jy in die koshuis is!
Een ou het 'n kitaar gehad, ons het een basdrom en simbaal gehad, en alles
moes deur een klankversterker gaan, maar ons het gespéél!
Maar toe studeer jy
regte? Ja, maar reeds as student aan die Universiteit van
Pretoria het ek en 'n vriend in 'n studentekroeg gespeel. Eers was dit
twee aande per week. Om een of ander rede het mense van ons gehou. Toe ek
weer sien, het ons vyf aande per week gespeel. Dan moet jy nog swot ook.
Ek het nie gehou van regte nie; dit was vir my immoreel. Hulle het vakke
soos Bantoereg gehad. Dit was in 1972. Ek het regte laat vaar, en toe my
B.A.-graad behaal met Afrikaans en Filosofie as hoofvakke. Ek het by
uitstekende mense klas gehad, soos my tante, prof. Elize Botha. Vir my
honneursjaar het ek die trilogieë, die hele boksemdais van Etienne Leroux
gepak. Ongelooflik. Groot letterkundiges het vir my klas gegee, ek het
baie geleer. Maar ek het geweet my hart lê by musiek.
Hoe het dit jou geraak
om 'n politikus-pa soos Pik Botha te hê? Dit was swaar in my
jonger dae. Behalwe dat my pa nie gehou het van die gedagte dat ek musiek
my lewe maak nie, kon ons groep nooit 'n onderhoud kry oor ons musiek nie
- dit het altyd gegaan oor Pik se seun. Dit verander nou, maar jy kry dit
steeds: Piet Botha, seun van die vorige, vorige, vorige ... Daar was ook
die mense wat met jou skoorsoek oor wie jou pa is. Uit die gehoor sou
iemand roep: "Pikswart!" Dan moet jy maar net jou mond hou. Gelukkig is
daardie dinge verlede tyd. Ek en my pa kom goed oor die weg. Hy hou baie
van ons musiek. Ek kan nou verstaan dit kon nie vir hom maklik gewees het
om 'n openbare figuur te wees en dan 'n langhaar rock-'n-roller as seun te
hê nie. Maar hy het my nooit gedwing om te verander nie.
Waar kom die musiek in
jou vandaan? My ma, Helena, het musiek en drama op Stellenbosch
gestudeer. Ná hul troue het sy nie verder gegaan nie. My oupa (my ma se
pa) het klavier gespeel en liedjies gekomponeer. My ander oupa het orrel
gespeel. Ek moes baie hard werk om tegnies te kom waar ek vandag is. Ek
wil nie wintie wees nie; ek weet eintlik maar min van kitaar speel. Dis 'n
lewenslange leerproses wat jy nooit voltooi nie. Maar ek kan darem al 'n
bietjie "gooi". My suster Lien is 'n werklike kunstenaar. Fotografie is
haar medium. Haar werk is intens, myne is maar gewoon. My ander sussie,
Anna, is ook kunstig, maar sy is op die oomblik voluit ma. My broer,
Roelof, is 'n akademikus by RAU, 'n baie ghrênd ou met 'n doktorsgraad in
die ekonomie.
Vertel van jou eie
gesin. Ek is baie op die pad, maar as ek tuis is, kry almal
aandag en liefde. Ek dink nie hulle moet musikante word nie. Die
vakleerlingskap is te gevaarlik. Jy kan dalk twintig jaar bestee aan jou
opleiding en daar kom niks van nie.
Jy het ook 'n jong
orkeslid onder jou vlerk geneem? Johnathan Martin is 'n baie
talentvolle musikant. Ek het sy ouers goed geken. Sy pa is 'n geruime tyd
oorlede en sy ma het drie jaar gelede verongeluk toe hy negentien jaar oud
was. Hy het soveel talent, en ek het net gevoel ek wil hom help. Ek het
hom aan die diep kant ingegooi op toer, en hy het eenvoudig sy ding
gedoen! Ek glo dit was so beskik. Ek het iemand gesoek in daardie stadium,
en ons kombinasie werk net. Ouderdom en jeug, daar is nie ego's betrokke
nie ... dikwels is dit net ek en hy wat optree, ander kere is dit die hele
groep.
Spesiale
oomblikke? Ek is geseënd en gelukkig. Ons het saam met die groep
ZZ Top in Suid-Afrika opgetree. Elke aand speel jy voor vyftien-,
twintigduisend mense. Daar was baie energie. Ons Afrikaanse optredes is
net so bevredigend. Partykeer is die mense se reaksie so oorweldigend dat
dit jou half skrikmaak. Dit gee jou petrol om weer aan te gaan. Ek weet
nie altyd hoe om met die gehoor te kommunikeer nie; dis wonderlik as die
musiek namens my kan praat.
Beweeg jy graag in
musiekkringe? Ek het nog altyd probeer om onafhanklik te wees,
sodat niemand vir my kan voorskryf nie. Ek verkies om nie by die
dampkringe uit te kom nie; daar is ook maar jaloesie en agteraf pratery.
Ek het nie vyande nie. Ek probeer my ego klein hou. Dis belangrik. Ego
veroorsaak al die moeilikheid in die wêreld.
Hoe lyk jou dae
tuis? Daar's geen patroon nie. Een dag skryf ek die hele dag.
Die volgende dag gaan speel ek tennis. Of gholf, wat ek baie swak doen,
maar ek geniet dit. Ek sal nooit 'n nege-tot-vyf-werk kan geniet nie -
nooit. Die oggende het 'n heerlike varsheid, dis my lekkerste werktyd,
vroegoggend tot middagete. Ek kook as ek tuis is - Chinese kos, steak,
pastas ... My gesin is mal oor my kos. Al die mans in ons familie is goeie
kokke.
Jou lewe
vorentoe? As my musiek vir iemand iets kan beteken, is ek
tevrede. En as ek soos Willie Nelson kan aanhou sing. As ek by die see kan
bly, kaalvoet loop op die strand, 'n paar visse vang ... En as ek mense
kan help wat swaarkry, sal ek gelukkig wees. Ek wil eendag, as ek ouer is,
'n boek skryf. Dit moet leesbaar wees, maar steeds 'n bietjie filosofie
hê, of 'n kinkel teen die einde.
Ons het gespeel. Ons het plesier gehad. Ons is gevra om te speel. Ons
ervaar steeds meer plesier. En so gaan dit eintlik nou nog.
|